news

Wie betaal vir Wat

Stixer inc Admin

Al hoe meer paartjies betaal deesdae self vir hul troue. Kenners vertel hoe die betaaltradisie verander het.

Wat betaal die bruid se ouers?

Die tradisie

Die bruid se ouers betaal vir die troue. Dit sluit die uitnodigings in, asook die bruid en strooimeisies se rokke, die onthaalsaal, die dekor, die ete, ens.

Nuwe manier van doen

Deesdae trou al hoe meer mense wanneer hulle ouer is en hulle betaal self vir hul troue omdat hulle die geld daarvoor het, sê Karla Oettler van Absolute Collection in Kaapstad. “Ek vind die bruid se ouers betaal steeds vir die troue as die paartjie in hul twintigs is wanneer hulle trou. Hierdie paartjies het dikwels pas begin werk en het nie duisende rande vir ’n troue nie. Paartjies in hul dertigs se geldsake is baie maal al so gesond dat hulle self die troue kan en wil betaal.”

Die meeste bruide betaal steeds self vir die rokke en die bruidegom vir die pakke. Wanneer ’n paartjie self vir die troue betaal, gee die bruid se ouers dikwels wel ’n bedrag vir die troue as ’n geskenk, sê Karla.

Wat betaal die bruidegom se ouers?

Die tradisie

Die bruidegom betaal vir die drank en die blomme.

Nuwe manier van doen

Die drank word soms uit die paartjie se gemeenskaplike begroting gedek, sê Karla. Maar die bruidegom betaal meestal steeds self daarvoor. “Dit word nog gesien as goeie maniere as hy dit betaal.” Marius Barnard van Weddings by Marius op Knysna beaam dit. Maar die blomme word meestal uit die paartjie se gemeenskaplike begroting betaal, sê hy.

Wie betaal vir die ringe?

Die tradisie

Die bruidegom betaal die bruid se verloof- en trouring en sy koop sy trouring.

Nuwe manier van doen

Hoewel die bruidegom steeds die bruid se ringe betaal, kyk die paartjie dikwels vooraf saam na ringe en besluit wat hul begroting pas, sê Karla.

… en die wittebrood?

Die tradisie

Die bruidegom betaal die wittebrood.

Nuwe manier van doen

Karla vind dis steeds die geval dat die bruidegom betaal, veral omdat die bestemming dikwels vir die bruid ’n verrassing is. Hoewel die paartjie baie maal saam besluit waarnatoe hulle wil gaan vir hul wittebrood, is die bruidegom in die algemeen die een wat die koste dek, beaam Marius.

*Dié artikel is in SARIE BRUID 2012/2013 gepubliseer.


Older Post Newer Post